Ek het die voorreg gehad om op Tweemanskop groot te word. ‘n Deel van my lewe wat ek glo my
gevorm het en grootliks bygedra het tot wie ek is. Ek is baie dankbaar vandag daaroor en ek het die
wonderlikste herrinneringe van my jeug. As gevolg van die feit dat my ouers ook op die plaas gebly het,
het ek onder Oupa en Ouma Kedos se voete groot geword. Ek het dus baie stories om te vertel maar sal
begin met een storie.

Ek kan nie presies onthou hoe oud ek was nie, maar as ek moet raai sal ek skat so vyf jaar oud. Oupa en
Pa Callo was baie lief vir boks. Hieroor sal ek volgende keer nog ‘n storie vertel. Pa het toe vir my twee
pare bokshandskoene gegee as ‘n geskenk. Die handskoene was natuurlik die grootte van my klein
handjies of miskien bietjie groter sodat ek in hulle kon ingroei soos die gebruik met skoene was. Dit was
vêr te klein vir ‘n volwasse man, dus het Pa dit aan twee fingers aan elke hand aangetrek en so met my
geboks. Hierdie boksgevegte het natuurlik vir my groot genot besorg. Ek het elke keer as die
oorwinnaar uit die stryd getree en Pa kon natuurlik ‘n “Oscar” gekry het vir sy vertolking van die rol as
verslane teenstander.

Met hierdie nuut gevonde sukses as bokser het ek toe na nuwe teenstanders gesoek. Dit is daar wat ek
die fout begaan het om vir Oupa Kedos “uit te daag” vir ‘n boksgeveg. Oupa moes gereken het ek moet
op die harde manier leer. Met my eerste woeste swaai hou stoot Oupa so regtuit “jab” uit reg op my
neus sodat ek sterretjies sien en daar op my agterent gaan sit. Die eerste ervaring was skok van iets wat
ek tot op daardie stadium van my lewe nog nie ervaar het nie. Dit is gevolg deur daardie snaakse
brandgevoel van ‘n hou op die neus wat jou oë laat traan en jou asem wegvat. Dit is nou traan voor die
regte trane. Oupa se daaropvolgende woorde was ”jy moet nie net slaan nie, jy moet koes”. Nodeloos
om te sê dit was die einde van die geveg en ek is daar weg in trane, regte trane.

Ek het vir ‘n paar dae wye draaie om Oupa gestap. Een dag sê Oupa toe “bring jou hanskoene dat ek jou
leer”. Natuurlike was ek nie baie entoesiasties nie en het baie huiwerig terug gegaan. Hierdie keer het
Oupa my geleer hoe om te staan, hoe om te koes en watse hou om te slaan. Die vetroue het stadig
teruggekeer maar ek het ‘n baie belangrike lewensles geleer wat ek eers baie jare daarna verstaan het.
So het my Oupa Kedos wat ek steeds baie mis my baie dinge op ‘n jong ouderdom geleer. Hy het my
nooit “opgepiep” soos baie ouers geneig is om te doen nie. Dit is een honderd present te verstane
hoekom ouers dit doen, maar die harde kant van die lewe moet ook geleer word om mens voor te berei
vir die grootmens lewe. Oupa was ‘n reguit mens, moeilik en hard maar baie goeie leermeester.

Tot volgende keer.

NS. Elsabé moet my asseblief nie kruisig oor swak Afrikaanse spelling en gramatika nie. Na 21 jaar in
Engels lewe is my Afrikaans nie meer op standard nie.