Oupa loop altyd naby die heining. So elke nou en dan voel-voel hy aan die draad of wikkel ‘n paaltjie. Daar was niks slap-hangery in sy heinings nie. Hy het jou ook sommer vroeg-vroeg al geleer hoe om deur ‘n draad heining te klim, sodat jy nie alles opdonner nie. Net dorpselling probeer bo-oor gaan, so een knater op ‘n slag. Dis hoekom die boonste draad altyd een van daai dubbel-draad-met-baie-dorinkies was.

Heinings was ook net netjies omdat jy weet hulle is belangrik. Ek volg Oupa alweer soos ‘n effens te klein skaduwee rond bo-oor die klipkoppie. Gewapen met tang en draad pak ek ons die tereur van tyd en roes aan. Elke bind-draadjie word bekyk. As dit net so effens moeg lyk word hy afgeknip en vervang met ‘n nuwe een, en daar was ‘n regte manier.

Dit het ek sommer vinnig uitgevind. Oupa wys my hoe om die nuwe draadjie te meet en met die regte deel van die tang te knip. Ek is maar klein en seningrig, maar so poep-poep druk ek die tang met albei hande tot die draad oorgee. Ek sit die draadjie mooi rondom die paaltjie en die draad en begin vasgedraai.

“Wat dink jy doen jy?” vra Oupa. “Maak vas Oupa, hoekom?” vra ek en kyk Oupa met goot oë aan. Oupa sug, want hy weet daar is reg en daar is verkeerd. “Net ‘n chinaman draai goed linksom vas” verduidelik hy geduldig, en dit is dit.

Nou is ek groot, met my eie kinders en ek is ‘n dorpselling. Maar ek weet hoe om deur ‘n draad heining te klim en goed met draadjies vas te maak. Ek het ‘n hele laai vol tange, en in elkeen van hulle hoor ek Oupa se stem, “daar is ‘n regte en ‘n verkeerde manier”.