2021-10-12
Leentjie se gedagtes
Liewe Willem,
Dis nou so spesiale gedagte dat ons ons ervarings van Tweemanskop met mekaar kan deel! Elkeen ervaar n plek of gebeurtenis anders. Ek het nie noodwendig stories, maar my ervarings was van kleins af vir my iets besonders. Daar was ook die swaar van groot word, teenoor die avontuur.
Oom Callo en tannie Lillepot moes as laerskool kinders met die Perdekar Daleside skool toe ry. Dit was n afstand van 7 Myl daai tyd, vm en naskool, Winter en Somer, reën of hael. Ma Lize en ek kon darem by tannie Cilie Venter hulle op Daleside van Maandae tot Donderdae loseer. Dit was ook maar vir ons swaar, die verlange was erg. Maar Vrydae na skool was ouma by die skoolhek. Dan was dit n gesoenery vir n vale.
Dan die aankoms op die plaas……. wat n opgewondenheid!!!!!! Dan sien ons aan die begin van n Lente van ver af die Wilgerboom is groen!! Of oe, die dam is mooi vol, of daar is n nuwe hondjie. Ons was mal oor verrassings!
Desember vakansie was 1 groot plesier. Ons het dikwels geswem in die yslike dam met ons opgeblaasde ou binne bande. Daar was ook 1 grote van n trekker, dan lê mens nou sommer op die rug en geniet die son. Ons het ook soos akrobate geswaai aan die water pype wat gelei het vanaf die windpompe na die dam.
As ek dink aan Kerstyd op die plaas, kry ek onmiddelik die geur van Dennebome in my gedagte. Oupa het so week voor Kersfees vir ons n Denne tak afgesaag, dan het ons hom in n groot houer gesit met klippe om hom, en dan die houer met kreukel papier en groot strik versier. Versierings in die boom was silwer en goud geverfde Sipresboom bolletjies, kreukel papier “streamers”, en regte kersies wat ons Oukersaand sou aansteek. Ons was vreeslik geheimsinnig met die geskenkies toedraai, niemand mag in die kamer gekom het as jy daarmee besig was!! Geskenkies was dan onder die boom gesit, paar dae voor Kersfees.
Ja, van Oukersaand en Kersdag kan ek julle niks vertel. Julle het self ouma se lekker Skaapboud en Ertappelslaai ervaar, en die samesyn! Ai tog !
Vakansie tye was dit dan swem, kuier, ens. Maar ag hoe lekker was dit as ons dan kon gaan fliek op Vereeniging of Johannesburg as daar n spesiale fliek was soos The Student Prince. Dan het ons almal gegaan, oupa het nie omgegee om donker terug te ry. Ons jonges het ook soms Inry toe gegaan by Vereeniging.
Oe, laat ek nie die Vrugte vergeet. Pruime, dan klim jy in die boom, of op die Lavvy se dak, en eet. Perske boord waar jy staan en eet en eet. En ai, arme ouma moes Vrugte inlê, en konfyt maak, sodat die rakke altyd vol was.
Die huis partytjies!! Lekkerste op aarde. As oupa of ouma verjaar het, het mense sommer opgedaag vir die aand. Ons het altyd “cream crackers” met suur uitjies, kaas ens nm gemaak, en as mense nou genooi was, het ouma moeite gedoen met koue vleise en slaaie.
Dan was daar nou musiek gemaak. Gesing, klavier gespeel, Oom Callo op die trek klavier, en later word die mat opgerol. Dan word daar gedans. Die musikante los mekaar maar af, want wie wil nou n opskop mis!
Maar, die kosbaarste van alles was oupa en ouma se liefde vir mekaar. Oupa het dikwels aan tafel aan ouma se arm gevat, dan sê hy “my ou mammatjie”. So trots dat sy die ma van sy kinders is. En dan ….. die kostelikste, as hy iewers moes gaan, dan sou hy vir ons sê: Kyk mooi dat ou “very nice” nie vir mamma vang. Toe ek klein was het ek gedink “Werrienais” is n monster. Eers later toe ek groter was het ek my fout agtergekom.
Oupa en ouma het elke dag na middagete bietjie gaan lê en rus, dan het ouma eers hardop n storie gelees uit n tydskrif sodat oupa ook kon hoor. Ek hoor nou nog haar stem. In die Winter het hulle n kombers op die agterstoep gegooi in die Son, en daar gelê. Dan lê ons sommer ook by hulle voete. Dan het ouma gesê ons moet eers haar grys hare uit trek. Later was daar natuurlik te veel.
Miskien het ek nou goed met julle gedeel wat julle in elk geval weet. Maar ….. dit was nou vir my te lekker om my gedagtes weer terug te neem. En dankie dat julle aandeel gehad het aan my herinneringe.
Liefde.
Tannie Leentjie xxx