My kleintyd herinneringe is sinoniem met Tweemanskop. Vandat ek kan onthou het ons gesin ten minste een maal per maand vir die naweek plaas toe ontsnap. Verseker was dit een van die beter hoogtepunte van my kinderlewe. Dis ‘n ver pad om terug te gaan in my gedagtes……meer as 40 jaar!

Die rit soontoe het vir my altyd eindeloos ver en vaal gevoel……van Standerton, dan langs Greylingstad met die graansilos prominent sigbaar van die pad af verby, dan die afritbord na Balfour, dan uiteindelik Heidelberg, wat aanduiding was dat die plaas darem al nader kom! Dan kan ek nie onthou hoe verder nie, behalwe dat ons nog ‘n hele ent grondpad ook moes ry. Herinneringe aan fyn droë stof wat oral in die kar insif laat my steeds asem ophou in ‘n poging om nie te voel of ek gaan versmoor nie. By Tannie Koekie se plaas verby,…… en dan, Tweemanskop! Die eerste plaashek, die lae klipmuur en dan uiteindelik die ingang by die tweede plaashek!

My pa het veels te lank gevat om die kar behoorlik tot stilstand te bring voor die draad hek! Ek het graag eerste uitgespring by die agterdeur, die ronde yster om die haak teen die klippilaar losgewoel, op die hek gespring, hard weggeskop en in ‘n halfmaan op die hek gery tot hy goed oop was. In die sementpaadjie van die voordeur af na die voorste hekkie van die plaaswerf kon ek reeds my ouma Lizzie afgestap sien kom. Ek het so vinnig as my bene my kon dra, gehardloop om eerste by haar uit te kom. My ouma was die sagste ouma in die hele wêreld. Sy het haar arms so ver rondom my gevou en my vasgedruk terwyl sy sulke vinnige soentjies met die gepaste bygeluide op my voorkop saai. En dis wat liefde is!

Die res van die naweek het dan soos ‘n skoon, leë skilderdoek voor my uitgesprei gelê, waarop ek kon doen wat ek wou. Wel, min of meer…… Die plaas was vir my grotendeels buite wees en baie speel en dan nog meer speel. Ek was nooit verveeld nie. Eindelose avonture was my deel. My neef Caron, my gunsteling neef, wat twee maande in ouderdom van my verskil en wie se gesin ook op die plaas gebly het, was my grootste medepligtige in dit wat ons beplan het vir elke dag. Die plaas was ons oester! Wat vir grootmense vervelig sou klink was vir ons baie opwindend. Ek dink ek was die grootste aanhitser van die twee van ons en het nie einde geken nie. Alles was vir my groot pret. Ek krap in my gedagtes rond en onthou: ons jaag mekaar op die vol plaasdam se oneweredige klipmuur met hier en daar grasdorings tussen die klippe, balanseer en stap-draf roekeloos saam op die groot ronde dromme op die tweespoor pad langs die plaashuis, trap op die varkhok se sinkdak rond en ontstel die arme krulstert-kortsnoet dierasies met ons lawaai, loop ver af in die geelperske boord waar die lekkerste geelperskes is en as jy eers daarvan begin eet het kan jy nie ophou nie, vang paddavisies in glasbottels in die sementvoor wat water uit die plaasdam na die landerye toe lei,
soek kleilatte in die populierbos op die onderste grens van die plaas waar ook genoeg modder vir klei was,
lê op ons mae op die sementplatform voor die graansilos en skuif al vorentoe om nog verder te kan afkyk in die gevaarlike gat met donker water onder in, loer in by die staldeur terwyl Rooihemp die koeie met die hand in die blikemmer melk en ons ongeduldig uitjaag omdat ons kwansuis die koeie ontstel, klim dan op teen die klipmuur by een van die agterste vensters van die stal om bo-op die stekelrige bale verder te lê en kyk hoe Rooihemp die koeie melk, klim af deur die hoë venster aan die oorkant van die stal tot in die skaapkraal, trap versigtig kaalvoet deur die skaapmis, klouter aan die oorkant van die kraal bo-oor die hoë klipmuur en teen die boom af tot aan die buitekant van die kraal, klim skelm deur die draad in Oom Stephen, Oupa se broer, se plaas en kyk hoe lank ons kan rondloer sonder om bang te wees, net omdat ons gehoor het hy skiet op oortreders, klim ongesiens boomlangs op die buitetoilet langs die huis se dak en lê geluidloos daar tot iemand onbewus van ons teenwoordigheid daarheen kom,
gaan tel hoeveel eiers die henne vir die dag gelê het, terg die klein uitnek-haantjies en laat spaander beangs as hulle ons storm, sluip versigtig deur Oom Callo se werkswinkel om te sien of daar iets soos tou, ketting, gereedskap of iets dergeliks rondlê wat ons kan gebruik vir projekte, aan die anderkant van die werkswinkel uit is die trekkers waarop ons graag klim en kamstig sit en bestuur en rondry in ons verbeelding, speel in groot droë mielieblaarhope wat jou saans in die badwater laat brand en huil van die seer, probeer lammers bekruip en vang wat gaan water drink by die sementkuipe naby die huis, vleg kranse van wilgertakke in die koelte van die wilgerbome, help graag saans vir Oupa om die skape kraal toe aan te keer sodat hy hulle sorgvuldig kan tel waar hulle deur die klein opening van die skaapkraal almal gelyk probeer deurbeur, beurtry-fietsry (een op die fiets en die ander ene draf langsaan saam) in die grondpad af na Tannie Koekie (op die buurplaas) wat vir ons stukke kunsleer skenk uit haar groot kis om ons nuwe bende se wapens van te maak, opstap met die lang warm reguit grondpad, hier en daar ook deur die mielies, na die boskoppie om voëls met die windbuks te skiet, hou bobbejane op die lang stoep met die verkyker dop wat van die boskoppie af oppad is na die land om mielies te steel.

Noodwendig was daar ook tye wat ons huis toe moes gaan. Deur die voorhekkie, af met die sementpaadjie in die koelte van die druiwepriëel en deur die voorste dowwe-groen sif-klapdeur. Binne was dit heerlik koel. Etenstye was rondom ‘n baie groot tafel wat die hele eetkamer vol gestaan het. Oupa het klein in statuur maar groot in teenwoordigheid aan die hoof van die tafel gesit. Badtyd in die groot groen badkamer moes ook gebeur om al die buite-avonture van die dag skoon af te spoel en as die laaste water in ‘n spiraal afsnork deur die gat in die bad, dan het ek vinnig uitgespring. Die dag was dan min of meer verby. Ons gesin het almal in een groot donkerige kamer met ‘n hoë plafon geslaap. Dit was anders stil op die plaas as op die dorp. Ten spyte van die groot stilte, kon jy op die agtergrond dikwels in die verte jakkalse hoor tjank en ook kriek- en padda geluide hoor. En tog was dit stil. Op die plaas en in my hart. ‘n Salige tevredenheid.

Wat ek ook onthou:

grootmense het eindeloos in die sitkamer sit en gesels en ook koffie gedrink,
mans het buite kompeterend gholf gespeel en gekuier van ‘green’ tot ‘green’ en soms moes ons ook ‘n verlore golfbal help opspoor, my ouma het blokkiesraaisels voltooi en gehekel,
my oupa het gerook en die ontwerp op die sitkamergordyne het my altyd aan die krulpatrone van sy rookstrepe laat dink,
my ouma was dapper omdat sy self ‘n slang doodgemaak het in die kort stukkie gang toe ek die mans wou gaan roep om te kom help,
my kort-van-draad-oupa kon soms sy een arm so om my ouma sit, met sagte oë vol liefde vir haar kyk en sê: “my ou mammatjie”,
saans kon ek my ouma se rustige stem uit hulle kamer oorkant ons s’n hoor as sy vir hulle Bybel lees voor slaaptyd,
soms was daar ook ander familie saam met ons op die plaas, soos die Jouberts, van wie Oom Kokkie altyd my gunsteling oom was,
een maal per jaar ry die ander Jouberts van die Kaap af vir kersfees met hulle baie kinders en baie geskenke wat hulle saambring,
Kersfees op die plaas met baie niggies, nefies, ooms, tannies, gesels, kos en geskenke en lekker somervakansie herinneringe.

Hierdie is baie van my jare se prentjies geverf deur sinne en woorde van onthou. Herinneringe het nie materiële waarde nie, maar is ‘n ewig-waardevolle geskenk wat ons Hemelse Vader vir ons elkeen afsonderlik en uniek gee en waardeur ons gevorm word tot wie ons vandag is. Ek is baie dankbaar vir elkeen van hierdie prentjies wat deel is van my onthou. Aan Hom wat ons eerste liefgehad het al die eer.