Wingerdstok vir die Voorhekkie Prieel

Daar was ‘n paar goed wat Oupa se trots was in die wêreld,…… of so het dit vir my gelyk. Ek is seker daar was ander goed ook, maar vir my was dit veral waar van party goed. Seker onbelangrik in die ”big scheme of things”, maar belangrik genoeg om ‘n groot deel van Oupa Charlie se aandag te verg, en dus het dit vir my gevoel of dit amper van die belangrikste goed op die plaas was.

Die Suurlemoenboom voor die stoep, duidelik die belangrikste landbougewas op die plaas, so het ek gedink. Oupa het dan elke dag die tuinslang laat drupbesproei in die dammetjie om die boom. Oupa het gesê ”as jy op my plaas wil piepie op enige ander plek as in die toilet, is dit op daardie boom se stam”, en ek het hom daarop opgeneem.

Die golfbaan se “greens”. Oupa het met sy hande die skaapmis uit die pad gevee vir sy golfballetjies. Met sy hande!!!!

Bovenal was die druiweprieel na die voordeur Oupa se pride and joy. Behoede jou as jy ‘n korrel steel van ‘n tros sonder Oupa se sê so. Die trosse was met sorg bekyk, oopgesnoei, dopgehou en liggies gestreel. Die wingerdstokke was kundig gesnoei elke jaar en net die sterkste dik lote het die sker oorleef. Elke sentimeter spasie was noukeurig beplan en lote was met sorg deurvleg om n digte, maar gesonde wingerdstok te produseer. Die Barlinkas was heerlik maar die Catawbas was my gunsteling en Oupa het altyd as ek genoeg gesmeek het vir my ‘n stukkie van ‘n tros afgesny met sy plat, sak-Victorinox. Glip-glip het die korreltjies dan in my kies verdwyn…….

Groot was die hartseer toe een van die, wat seker ’n baie ou wingerdstok was, die jaar nie weer uitgeloop het in die lente nie. Hy het droogtak net daar bly sit, terwyl al die ander buurplante, na die snerpende winter, weer lewe begin toon het. Met groen lootpunte wat in alle rigtings groei het hulle weggetrek met ywer, maar dit was baie duidelik dat daardie een nie weer sou druiwe dra nie. Sonder glimlag het Oupa ou Frans aangesit om die dooie stam en takke te verwyder en dit het ‘n nare litteken in die geliefde prieel gelos.

Oupa was gelukkig ‘n gesoute boer en het dadelik weggespring om uit die nuwe lote, van die beste stokke, stiggies te maak. Oupa het selfs van die druiwe uit oom Callo se tuin lote geneem. Ook die kerk se tuin het ‘n paar lote geskenk wat sonder seremonie geoes was na nagmaal en ons het selfs met die Mercedes langs die pad naby Meyerton gestop om oor ‘n heining lote te leen. Oupa het nie veel gesê nie maar ek kon sien ons was besig met belangrike werk.

Die een skoolvakansie het in ‘n ander verander en so met die tyd het die lote in plante verander in oupa se groentetuin. Die gapende gat in die prieel was nou ‘n paar jaar oud en die kandidaatlote was amper reg om deur die finale keurproses te gaan en daarvoor was net een ding belangrik. Nie kultivar nie, nie kleur nie, nie groeispoed nie, nee, die keuse sou gemaak word op die eerste vrug, die een wat die eerste vrug dra, sou die ereplek inneem.

Ons was meeste Sondae op die plaas, dit het gevoel soos elke Sondag. Ons het baie uitgesien na plaas toe gaan, dis nou Çois en ek, want ons kon n beurt kry om op ons pa se skoot te sit en die Volvo te bestuur. Dit was wonderlik. Die pad het oor elke stormwaterpyp ‘n groot homp gehad en pa Kokkie het vinniger gegaan net voor elke homp sodat dit amper gevoel het of die kar gaan opstyg, en as hy terughop op sy vering en kreun, het dit gevoel of jou maag in jou skoene val. Dit was groot pret, ek het altyd geskree vinniger, of ek nou bestuur het of nie, die pret was dieselfde.

Ons het beurte gemaak om die plaashek oop te maak en dan het ons op die hek gery tot hy teen die ronde klippilaar gehop en teruggebons het en homself byna weer toegemaak het. Oupa moes dit natuurlik nie sien nie want dit kon ‘n oorveeg verdien het as hy sou. So ons het maar ‘n oog op die klein plaashekkie gehou terwyl ons op die hek gery het,… net in case.

Die reuk van skaapboud het die hele plaashuis deurtrek en natuurlik het ons vir Ouma voor die stoof gekry waar sy besig was om met, wat soos ‘n honderd potte gelyk het, te werkskaf om die finale afrondings aan die Sondagmiddagfeesmaal aan te bring.

Die Sondag was die tafel vol gedek met selfs twee sitplekke langsmekaar op die kombuisdeurpunt. Die Nieuwoudts was ook daar, neefs en nig, oom Johan Kierie en tannie Lil. Die voorreg van klokkielui was gou uitgedeel aan Be and sy het dit goed gedoen. Die klokkie was met mening gelui van voorstoep tot af in die lang gang tot die brass tannie klokkie met die lang rok weer sy plek op die tafel ingeneem het. Almal het stadig hulle pad gevind tafel toe en met ‘n swiep- swiep, swiep-swiep het oupa die kerfmes vinnig heen en weer oor die staal gesleep, vinniger as wat my oe kon volg. ‘n Ritmiese goed geoefende melodie. Op ‘n manier het Oupa nie sy vingers afgesny nie en het hy nog tyd gekry om vir my oog te knip tussendeur. My gesig moes seker van verwondering gestraal het en tot vandag toe dink ek dis cool as ek dieselfde doen met die snymes op staal.

Sondagete was altyd die beste. Plaas-skaapboud, gebakte aartappels (onmoontlik krakerig buite en supersag binne) taai rys met n lang bruin sous, groenboontjies, pampoen en ‘n slaai met Oupa se vleistamaties en vars slaaiblare. Die slaai was getop met olie en bietjie asyn, kraakvars, niks fancy nie net wonderlik.

Nagereg was ,n glasbak vol geblikte geelperskes wat ek Ouma help uit die kas krap het. Sy het my op die rak laat staan en blikkies aangee, terwyl sy die datums lees wat sy op die blikkies geskryf het toe ons hulle help seël het maande vantevore. Die perskes was bedien met vanilla roomys en Ouma se brand vla, (tot vandag uniek aan Ouma). Daar was altyd genoeg en my pa het alles met n teelepel geeet en sekergemaak hy kry genoeg roomys.

Deur die hele affere het die gesprek gedwaal van boerdery, jag, die groentetuin en Oupa het genoem dat hy al die manne, jonk en oud, gaan nodig he na ete. Die gesprek was noukeurig weggehou van politiek, siende dat my pa en oom Johan aan verskillende kante van die draad was in hulle opinie oor die stand van Suid Afrika, die toekoms en die reg tot selfbeskikking, dit was duidelik. Ouma sou soms my pa ‘n kyk gee wat gese het, “ nie aan my tafel nie”, dan sou my pa net glimlag en die gesprek verander na koeitjies en kalfies.

Na ete was getalm by die tafel maar die gedagte was maar meesal dat almal hulle pad sou vind na ,n lêplek sodra hulle kon beweeg na die Sondag ooreetsessie. Dis toe dat Oupa sê al die manne moet hom volg, daar is belangrike werk wat gedoen moet word. As Oupa daardie toon gebruik het, het min maar moed gehad vir stry. Gedwee het al die manne Oupa by die klap- vliegdeur uitgevolg, af met die trappies na die groentetuin. Ek is agterna want ek was ook mos n man en Oupa het niks te sê gehad daaroor nie, dus drentel ek toe maar saam.

Die opdrag was eenvoudig. “Kyk deur al hierdie druiweplante en soek vir n tros. As jy een sien roep my, dan sal ek kyk”. So kyk Pa, oom Johan, Oupa en ek deur die, wat toe al ‘n menigte plante was, vir n tros, die eerste vrugdraende plant, die wenner. So het ons voortgesoek, ry op en ry af, noukeurig, versigtig aandagtig. Plant op, plant af. Oom Johan gaan so bietjie vinniger as die ander, want hy is ‘n vinnige man. Teen die tyd dat Oupa aan die einde van die eerste ry kom, was oom Johan al halfpad met die tweede en ek en pa was effe agter.

Skielik het die roep gekom “Hier Pa, ja, hier het ek hom, n tros!!” Dit was oom Johan met kinnerlike vreugde in sy stem, die wenner, ek het hom. Oupa storm vorentoe, amper op n drafstap, die lang wag, die geduld, die wenner, uiteindelik. Ek onthou hoe Oupa amper tentatief, versigtig die blare eenkant toe gestoot het, sy neus opgekreukel het en sy oë op skrefies getrek het om te sien. Net toe het Oupa met een beweging regopgekom, terwyl hy frons, het hy oom Johan in die gesig gekyk. Doelgerig terwyl die stilte in die lug hang, het Oupa sy gulp oopgetrek en die inhoud summier utgepluk, “ Johan daai is nie n tros nie, die is ‘n tros!”

Die stilte het n rukkie in die lug gehang, Oupa was alreeds oppad af in die volgende ry op soek na ‘n tros, my pa het op die grond gelê en giggel soos n bakvissie en ek het geen idee gehad waar oom Johan heen verdwyn het nie….wat ek wel geweet het, was, dat ons ons tyd mors, want tussen daardie jong wingerdstokkies sou niemand n tros soos daai vind nie.

Jare later met n besoek aan die plaas toe ander mense reeds daar gewoon het, het ek met n groot glimlag op my gesig gestaan en kyk na die pragtige swart trosse druiwe wat uit die bodem van die prieel hang. Geen dooie- of lee kolle nie, net dik gesonde, mooi druiwestokke. So dink ek toe terug aan die dag toe ons uitgevind het wat Oupa reken ‘n tros is.