Partykeer het mens jou Ouma nodig. Dis nou maar net hoe dit is, en dan moet jy nou maar gaan waar Ouma gaan en doen wat Ouma doen.

Ouma was ‘n besige vrou. Sy het elke dag vroeg opgestaan en dinge gedoen. Die hele dag lank waas daar nie ‘n oomblik wat sy nie bedrywig was nie. Maar dan was daar die tye wat sy moes sit om dinge te doen. In daai voorkamer stoel met die slap springs. Ouma se stoel, presies op die regte plek om die gang dop te hou, rug na die venster sodat sy die kombuisdeurverkeer kan ignoreer maar naby genoeg dat sy in ‘n oogwink in die kombuis kon staan. Dit was daar by Ouma se voete waar jy ook besig kon raak met die versigtig beplande dingetjies wat Ouma bymekaar gesit het. Van al daai dinge was die boks krale die beste.

Derduisende, piepklein kraletjies. Elke kleur van die reenboog, en genoeg. Meer as genoeg. Met ‘n stomp naald en lang stuk garing kon jy ure daar by Ouma se voete sit en kraletjies ryg terwyl Ouma se bol hekelgare al kleiner word.

Ouma het geweet hoe om haar liefste kinnertjies se harte gelukkig te maak. Presies daar by haar voete op die growwe Ozite mat.