Dis vreemd wat mens onthou van jou kinderjare. Ja, ek maak dit klink of ek regtig oud is maar ek praat nou van daardie jare wat jy regtig jonk was en alles vir jou groot gevoel het. Ja daardie jare, toe jy te klein was om te weet wat Brandewyn was, maar groot genoeg was om te weet dat almal maar net gewag het vir oupa om te se dis OK om maar enetjie te skink.

Jy weet……, toe dolos speel nog lekker was, Sondagmiddag slaap soos die dood self gevoel het, want dit het verewig aangehou. Saggies het ons dan deur die ou plaashuis gesluip al het die houtvloere hoe gekraak, sodat ons net nie vir oupa wakker kon maak nie. As ons stil genoeg was sou Ouma daardie groot plastiekbottel met die skroefdeksel bring, sodat elkeen een blinkpapier oumenssjokolade, kon kies. Hulle was almal maar sleg, veral die gemmer tipe. Ek kon nooit onthou watter een hulle was nie, dan het ek maar gegaan vir die oranje blinkpapiertjie soort in die hoop dat dit die  lemoenerig een was en nie iets ergers nie. Ek hou nie van lemoen nie maar dit was beter as die alternatief.

Ek dink soms terug aan daardie dae, want ek onthou Oupa en Ouma…… Ouma was vir my n stil lieflike mens met die heel sagste wangetjies in die hele wereld. Sy het daarvan gehou om soentjies te kry maar sy het baie meer daarvan gehou om hulle te gee. Sy het my altyd gegryp en aan my wang begin suig soos n Ramora buite die water.  ‘n Onaardse geluid reg hier naby my oor wat hoendervleis op my bene en skouers soos n dik kors laat uitslaan het van pure lekkerte. Sy het soos babapoeier geruik en tot vandag het ek nog nie iemand met mooier blomrokke gesien nie.

Ek kry haar op die stoel by die venster sit en dubbeldoel. Sy luister BBC World Service op die groot silwer radio met twee antennas en die aardbol op die stasieskerm. n Scary ou in hoog engels sê: “ This is the BBC World Service “, en dan dreun hy aan met nuus van Margaret Thatcher en Ronald Reagan”, terwyl oums soos n masjien die blokkies rye vol letters maak in Afrikaans. Die Huisgenoot blokkiesraaisel was haar gunsteling omdat sy al die mense op die swart en wit fotos herken het. Dit moes so wees want hulle was altyd eerste klaar.

Erens deur die middag daag oupa dan op van erens op die plaas, trek die groot bruin verwarmer nader en skakel al die elemente gelyk aan. Dan krap hy die lap twaksakkie uit sy sak en kom tevoorskyn met n mooi gevoude papierpakkie. Stadig en doelgerig word daar dan aan n zol gerol met die presiese hoeveelheid tabak. Die tabak ruik dik en soet. Lekker nes tabak moet ruik en oupa rol dan die gedoente met n ingeneur se presiesheid op. Daar word ook stukkies tabak ingedruk op die voorpunt met n vuurhoutjie en agter word die los stukkies noukeurig afgebreek en terug geplaas in die twaksakkie. Met n vinnige lek word die spoeggom dan aangewend om die storie van los parte, n ding te maak. Die zol word twee of drie keer bietjie gelek en bekyk en met n tevrede uitdrukking word die vuurhoutjie getrek en aan die mooi gerolde zol-sigaretjie voorgestel. 

Ek moet bieg. Die ritueel het my gefassineer en die salige uitdrukking op oupa se gesig was waarskynlik die rede waarom ek ook later vir vyf en twintig jaar lank aan sigaret- en sigaarverslawing deel gehad het. Die hele affere het dan ‘n groot rookwolk om oupa se kop veroorsaak en sekondes later het hy opgestaan en met sy rug na die verwarmer, op sy hurke gaan sit terwyl hy rustig aan die sigaretjie getrek het. Daar het ek hom dopgehou as hy sy eerste gaap vir die aand salig uitrek en met die uitasem gesê het “ gee go gageeeeee”. ‘n Hartlike gaap na n harde dag se werk, wat meer as net soms met n redelike luide knor afgerond was, wat altyd oogkontak tot gevolg en n vet glimlag van ons altwee uitgelok het. Ouma het nooit hiervan gehou nie en die skootwerk was dan eenkant gesit en sy het dan kombuis toe verdwyn om aandetetoebroodjies en koffie te maak. 

Die dinge wat vassteek darem. Ek uiter nou nog “gee go gagee” as ek gaap, dit het ook meer kere as nie, ‘n knor of twee wat volg, net ter ere van oupa se stoute kyke as hy ouma geterroriseer het. 

Ek mis ouma se sagte wangetjies, haar bottel Checkers Chocklits, haar mooi hekelwerk, haar sagte glimlag, haar gebrande vla, haar geblikte geelperskes en die manier hoe sy my styf ingetuck het in die scary groot plaasslaapkamer met die hoë plafonne. Ek mis haar skuifel voetstappe in die gang af. Ek mis haar.

Ek mis Oupa se mooi flenniehemde, sy mooi Sondaghoed, die tabak geur wat om hom gehang het en sy skerp knipmes. Ek mis skaapslag onder die appelkoosboom en ek mis turksvye vee met die besem op die grasperk om die dorings af te haal. Ek mis skelm slukkies brandewyn en coke uit die cokeglas op die hoektafeltje langs sy stoel, ek mis woorde soos brench, musikale gaaprympies. Ek mis ook “hiertsvolle sansa” en ander Oupa sêgoed, die geluid van sleutels in die sideboard, en die swiep-swiep van die Sondag boudkerfmes op die staal. Ek mis die ondeunde vonkel in oupa se oog soms as hy dink ons kyk nie….Ek mis Oupa.